Jacobus4Liefste Kleinboet

Ek sit en wonder waar my gunsteling Kleinboet-soentjies hul plekkies vind.

Onder jou haastige, trippel-trippel voetjies wanneer ek saans vir jou skoon lyfie pajamies aantrek na badtyd?

Agter teen jou warm, kielie-kielie intrek-nekkie as ek jou inhardloop en opraap?

Op die goue sonstrepe in jou wip-wip hare wanneer jy spring-spring langs my lessenaar kom staan en my grootoog van ‘n “pinnetop”1  vertel?

Bo-op jou ronde wil-self handjies wat “Tyk! Tyk2, Mamma!!” jou nuwe wêreld vir my wys?

Op jou boepmagie waarop ek raserige soentjies blaas nadat ons soggens in die bed gelê en stories lees het?

Op jou sagte wangetjies wanneer jou lyfie donkernag teen my kom warmte en troos soek?

Nee, ek weet nou:  my gunsteling soentjies is die waar jou kleine lippies self onverwags, soos ‘n skoenlappertjie, op myne kom sit

  1. ‘pinnetop’ = ‘spinnekop’
  2. ’Tyk’ is sy woord vir ‘Kyk’
Advertisements